Wednesday, October 5, 2011

Eendag ..lank lank gelede....

Nee nie soos die titel se nie.. dit was nie so lank terug nie..om die waarheid te se in 2003/2004. Ek het skool gegee by 'n wel bekende skool in Pietersburg (Polokwane). My klas was op die 1ste vloer, my buurman links was 'n vriendelike jong bruinman en aan die regterkant 'n ewe vriendelike ouer dame wat so effens doof was. Dit is 'n Engelse skool en daar was tog een klas wat meerderheid Afrikaanse leerlinge ingehad het. My manlief het vir my 'n pragtige pienk broekpak gekoop, nogal by QueensPark. Die eerste dag wat ek dit werk toe aantrek..sal dit die dag mos nou so verloop..per toeval die dag was die 'Afrikaanse' klas by my vir daardie periode. Niks vermoedend het ek voortgegaan soos wat van 'n onderwyseres verwag word en karplaks daar le ek agter my tafel..die enigste wat ek kan onthou was die Afrikaanse seun wat oor my staan met die groot 1,5liter waterhouer wat op my tafel gewoonlik gestaan het..en daar word ek sopnat gegooi..en my pienk broekpak is vol watermerke..met die woorde 'Juffrou Juffrou is jy okey?' wat weergalm..en die gawe jong buurman van die klaskamer links wat skreeu op die top van sy stemmetjie..'Class keep quiet keep quiet'. Nie asof hulle aan hom gesteur het nie.
Nie lank na die episode is ek in die personeel se 'rekenaarkamer' besig om aan vraestelle te tik en daar voeter ek van die stoel op die mat..die skoolhoof was op daardie oomblik oppad verby die kantoor en daar le ek in alle glorie (volgens sy beskrywing)..hy het onmiddellik die ambulans geskakel en ek is vir die eerste keer ooit in 'n ambulans met liggies en sirenes en die hele toetie met die paramedics saam my agter in, hospitaal toe. Met die eerste ondersoek is bepaal dat ek lae bloeddruk het, maar met verdere ondersoeke is daar toe 'n klein aneurisme op my brein ontdek. My hart was in my skoene, want dit is mos nou 'n vonnis(of so het ek gedink). Niks kontaksport (dit beteken nie meer netbal afrig nie). . en nog 'n klompie moets en moenies.
Een dag het ek by die huis weer flou geword en my kinders het in die kombuis gekom (hulle was heelwat jonger as nou) en daar le ma. . kan nie onthou watter een dit was nie, maar toe ek bykom se die een aan die ander 'los haar sy slaap'. Vandag is dit baie snaakser as op daardie oomblik. . 'n ma wat le en slaap op die kombuisvloer, yeah right.
'n Jaar of wat later woon ons toe in 'n buurland. Ek het aanhoudend hierdie ongelooflike hoofpyne gekry en was so bevrees dat die aneurisme nou besluit dit is sulke tyd. Met 'n verwysing is ek toe daar weg na 'n hospitaal in Pretoria, dit was vir my so laaaang rit, maar my vriendin en die se dogtertjie is saam. So sit ons in die hospitaal gange en wag tot in ewigheid in en uiteindelik gaan ek vir my ondersoeke en scans en en en .. met die uitslag het ek gevoel, ek gaan omkap en die keer om 'n goeie rede..want my gebede is verhoor en die klein 'bloedblasie' is weg. . weg . net weg. Dit is waar dat ons Vader wonderwerke laat gebeur.
Vandag se floutes het my net weer laat terug dink, maar ek glo vandag was net my lae bloeddruk wat weer woer woer gespeel het.

Tuesday, October 4, 2011

Vreemde ding ...

Wat is daardie vreemde gevoel wat mens soms kry? Is dit maar net jou 6de sintuig wat oortyd werk? Ek sê altyd dat my 6de sintuig my nog nooit in die steek gelaat het nie.

Ek het nou al vir 'n paar dae die baie vreemde gevoel dat daar iets gaan gebeur of aan die gebeur is..dit sal ek maar seker moet wag en sien. Hoe verduidelik mens aan 'n persoon dat jy weet maar net omdat jy weet dat iets nie pluis is nie. Is dit ons Vader wat ons waarsku of hoe dan anders?

Ek kry gewoonlik die gevoel en dieselfde dag is daar 'n 'ietsie' of dit nou goed of sleg is..maar die keer is dit anders. Ek hoop en bid dat dit nie 'n groot ding is nie en dat ek my maar net verbeel. My vriendin het al haar sake mooi agtermekaar begin te kry en net 2 of 3 maande later is sy wreedaardig vermoor...laat mens wonder.

10:39 ... Sien ek het geweet...en daar kap ek toe om by die werk met lae bloeddruk.

Sunday, October 2, 2011

Sondagmiddag in die James-huis...

Die Sondag het met 'n warboel begin, almal verslaap vir kerk. . aai toggie en dan nog 8:47 'n boodskap te ontvang wat jy weet net moeilikheid kan uitspel. En so begin ons oggend. Skoonmoeder met dramas wat nie maklik opgelos kan word nie. . .

Maar soos die dag aangaan en die reuk van heerlike kerrie bredie so deur die huis trek. . verdwyn die onrustigheid daarmee saam. Manlief se ritueel van Sondae sy koerantjie buite in lapa te lees en die swembad skoon te maak, gaan soos gewoonlik voort. Die kinders is elkeen besig met sy eie ding. . Andrew vat sy meisie vir 'n piekniek en Jarene' se vriend kom kuier. Die gelag as die kinders besluit om die karre te was, is aansteeklik.
Dit laat mens nogal wonder . . hoe sou dit wees sonder die twee kiddies van my in die huis? Hulle maak mens se lewe so vol. . soms vol drama, maar meeste van die tyd so vol geluk! Dankie Heer vir my wonderlike man en kinders.

Saturday, October 1, 2011

Matriekafskeid

Nou ja .. waar begin mens. Die hele petalje is seker die 'Date'..met die dat ons eers aan die einde van my seun se Graad 9 jaar hier aangekom het, maak dit toe nie vir hom so maklik nie..aangesien dit 'n hele ritueel is as jy in Graad 8 in die klein dorpie se Hoërskool kom het jy net 'n klein rukkie om te besluit wie wil jy saamneem na jou matriekafskeid, want jy sien hier mag jy slegs 'n mede matriekulant saam met jou neem na die onthaal..nou watter ouer gaan die onkostes aangaan vir 'n metgesel wat net die Big Brag doen en dan maar moet droë patat by die huis gaan sit? Maar met dit alles saam was sy keuse van die metgesel 'n goeie keuse. Die kind het so goeie hart en het besef dat dit hul albei se groot dag is..hul het saam besluit oor wat se kleur en toe het hy sy hemp gaan uitsoek en dit vir haar geneem om daarvolgens haar materiaal te kry vir haar rok. Ek dink dit is sekerlik een van die mooiste eienskappe..dankie poplap dit was great. Het dit vir ons bietjie makliker gemaak.
Die aankoop van die pak was ook maar 'n storie..want meneertjie soek nie sommer 'n pak van Edgars of Truworths of selfs Stuttafords nie..nee ma, want dan het elke 2de ou dieselfde aan. Goed seun, dan soek ons maar nog. So stap pa en ma in 'n regte 'Suit' winkel in net om te kyk, maar daar skiet boeta se ogies soos sterretjies en hoe sê mens dan nou nee. Anders as vir 'n dogter, is die pak klere iets wat hy weer en weer sal kan dra, al kos dit 'n fortuin veral in so 'n winkel. Maar ooh wee toe word daar sommer 2 dasse gekoop, want 1 sal nie deug nie..netnou pas dit nie mooi nie.
Die skoene was natuurlik sommer so 'n vinnige jobbie..geen probleem. Maar toe moet hy natuurlik nie vergeet om sy meisie ook te betrek. Sy het spesiaal 'n rokkie gaan soek om by hom te pas..'n pragtige oulike meisiekind.

My drama begin seker eers oor 3 jaar as dit sussie se beurt is vir 'n rok....bid solank vir my.