Wednesday, November 4, 2015
My never ending story ... part 2
Sedert my laaste Blog het so baie verander.
Ek het 'n 'fusion'(staalpenne in my rug om rugwerwel aanmekaar te hou) gekry in Mei 2012 en ook om te help met die 'disk replacement' wat gedoen is in 2011 wat geskuif het en los was. Dit het my natuurlik vir 6 na 8 weke buite aksie geplaas. In die laaste week het ons verhuis terug Kaap toe, wat 'n gedoente met 'n af rug om die gepak klaar te kry. Die eerste paar weke in die Kaap was baie hectic. Ons het weens die feit dat ons vanaf Limpopo moes huis soek, in 'n dupleks ingetrek. Regtig 'n stunning plek, maar genade die rug wou dit net nie hou met die trappe nie. Ons meubels was hopeloos te veel vir die gewone drie slaapkamer, sitkamer en studeerkamer woning. Ons het soveel in die motorhuis gestoor. Ek het selfs naaldwerk vanuit die motorhuis gedoen so tussen al die meubels myself 'n sitplekkie gemaak. Manlief het ook vanaf die huis gewerk, en 'n hoërskool dogter, dit was omtrent 'n besige woning.
Na 'n paar weke, seker nie eens 3 of 4 maande het ons maar dit opgegee en 'n ander nessie gaan skrop. Eers in 'n klein tweeslaapkamer woonstelletjie probeer nesskrop vir 'n maand, terwyl ons meubels oralste oor gestoor was. Maar genade toe tref die ongeluk ons weer. In die tydperk het ek 'n pos gekry as Gallery Bestuurderes, maar glo my dit was glad nie wat die naam sê nie. Ek moes tapeserie matte rondsleep en wie weet wat alles, wat ek natuurlik nie met die ammakrok rug kon doen nie. Na 'n maand is ek toe maar daar fort. Maar wag dat ek net eers terugkom na die blyplek. Ons woonstelletjie was baie naby aan die see, een straat weg, maar ons het eintlik baie mooi see uitsig gehad, oor daar 'n veldjie in die straat voor ons was, so tussen die ander geboue deur. Ons was op die grondvloer, genade maar dit was 'n gesukkel. Die affirmative shoppers het ons drie keer getref in net een maand. Drie keer hul luck getry soos die engelsman sal sê. Eers was dit twee wat oor die heining oorklim in die oggendure en oor ons venster so na aan die hek was, kon ek alles hoor en natuurlik ook oor ek nou nie juis 'n vaste slaper is nie. Ons het so geskree dat hulle maar die hasepad gekies het. Skaars 'n paar dae later en het hulle sowaar die chieck gehad om die venster oop te breek, nie die glas nie, maar net die slot om in te kom en dit terwyl ek en my dogter in die woonstel was. Ek dink hulle was amper binne toe hulle ons hoor vra wat se geluide was dit dan nou en gelukkig het hulle toe weer gevlug. Maar die ergste was die dag wat ons nou uiteindelik kon trek, sowaar daardie oggend net na 2uur, hoor ek iets in die woonstel. Eers het ek gedink dis my dogter wat opstaan vir 'n nood badkamer besoekie, maar toe kom ek agter nee dit kan nie wees nie, sy sou die lig aanskakel. Ek maak toe maar vir ou slaapkous hier langs my wakker en sê iets is nie pluis nie, sy reaksie was lê net doodstil en moenie enige aanduiding gee dat ons hulle hoor nie. Woeps binne minute wat natuurlik soos 'n ewigheid voel as jy so stokstyf in die bed lê, is hulle weg met my doedelsak wat gelukkig net my beursie ingehad het, met min geld daarin natuurlik, want dit was maar broekskeur met een inkomste gewees, maar ooh weet jy die kaarte, genade daardie beslommernis en dan natuurlik manlief se selfoon en die grootste skade..ons laptop. Dit was hartverskeurend om te besef al jou inligting, foto's en herinneringe wat mens so mooi bewaar is weg. En al manlief se data vir sy werk. Woeps in 'n oogwink net weg.
So trek ons toe in die huis, en my rug en heup wil net nie ophou nie. Die huis ekspedisie het ook nie lank gehou nie, toe begin manlief rooimiere kry en ons verhuis na 'n pratige drieslaapkamer woonstel in Kusweg, met net die see voor ons, geen bure wie se honde raas nie, net die beautiful see. Ons is natuurlik nou al meer as twee jaar daar en geniet nogsteeds elke dag die ongelooflike mooi uitsig, wat nooit dieselfde is nie. Ek moes noodgedwonge maar weer die oulike dokter wat so mooi na my gekyk het in Pretoria toe maar aan 'n lyntjie hou en ek wou maar net nie vir haar sê ons het verhuis nie, was te bang sy wil nie meer die nood belangrike kroniese voorskrif vir my gee nie. Ek het toe maar na 'n paar maande besluit om 'n ander rematoloog te soek in ons nuwe omgewing(of eintlik ou, want ons het mos voorheen ook in die Kaap gewoon). Aai wat 'n soektog want hulle is regtig so skaars soos hoendertande. So geluk by die ongeluk kry ek toe 'n nommer van ons skoolhoof, ooh ja ek het na die gallery verhaal 'n pos weer in die onderwys by 'n wonderlike privaatskool gekry. Die skoolhoof het baie ernstig siek geword en het die professor gaan sien, waarby ek toe ook opland.
Maar eers moes dit natuurlik weer 'n wilde draai vat, want niks is normaal in my lewe nie. Ek het opgeland by 'n ander dokter wat by dieselfde praktyk praktiseer, aangesien die dokter wat ek eintlik wou sien nie vir 'n baie lang tydperk, ek bedoel maande, beskikbaar was nie. Die ou jong doktertjie, ek bedoel heelwat jonger as ek, nie dat ek nou eintlik horing oud is nie, wil toe mos vir my sê dat ek nou nie eintlik makeer wat die ander dokter sê ek doen nie. So skryf sy heeltemal iets anders voor en wil sê madame jy het eintlik net hieperkonders en depressie...oooh genade dit was die verkeerdste ding om te sê. Ek was skaars uit die spreekkamer en daar is ek op die foon na my dierbare dokter Christa. Sy was redelik ontsteld dat die ou jong doktertjie nie eens dit nodig gevind het om my geskiedenis na te gaan nie. En sy weier dat ek die medikasie drink, so is ek toe terug op die ou voorskrif, enige iets net sodat die rug en heup (my never ending story) sal beter voel. Sy dring toe daarop aan dat ek tog wel by die professor sal uitkom.
En met haar hulp is ek na 'n paar weke in sy spreekkamer, wat natuurlik nou eenkeer in drie maande gebeur. Hy het natuurlik al my geskiedenis op aandring van Dr Christa deurgegaan en sy bevinding was maar dieselfde as my getroue dokter in Pretoria. So is na drie maande weer terug by hom en elke keer is dit net meer depressing as die vorige keer. Ek het nogsteeds die vloekwoord (Ankylosing Spondylitsis) siekte wat forever daar sal wees en die medikasie is opgestoot na soveel per dag, dis handevol in die oggend, soos ses gedurende die dag en dan weer 'n handvol in die aand.
Maar glo my as ek dit nie neem nie, kan die verkrokte ou lyf nie dit deur die dag maak nie. My heup skop sommer vanself uit en weier om verder sy samewerking te gee. My rug pyn, brand en is sommer net stokstyf met absoluut geen manier wat ek deur die dag kom nie. Daar is net mooi geen manier nie. So my lot is doodeenvoudig, drink maar jou handevol pilletjies elke dag en kom ten minste deur die dag. Vanaand se slapelose nag is natuurlik 'n storie vir 'n ander dag....my never ending story. Foto aangeheg is my medikasie vir net EEN maand.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment